Reports

Om weer te probeer: die herstandaardisering van Afrikaans

Afrikaans en Nederlands departementele seminaar, 15 November 2012, Universiteit van Stellenbosch.

PIETER ODENDAAL

’n Mens kon net-net nie die taalmonument agter die berge deur die groot vensters van die vertrek sien nie. ’n Klein groepie mense het op die sesde vloer van die Lettere en Sosiale Wetenskappe gebou op Stellenbosch byeengekom om te luister na wat Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans te sê gehad het. Sy het pas haar doktorale proefskrif oor die onderwerp voltooi.

Odendaal begin haar seminaar deur na globale tendense te verwys wat oor die afgelope halfeeu die konsep van ’n “standaardtaal” in twyfel getrek het. Die algemene konsensus onder sosiolinguiste is dat die standaardisering van ’n taal nooit bloot ’n tegniese oefening is nie, maar dat die proses altyd deur ’n sterk ideologiese kompas gedryf word. “Alhoewel die standaard veronderstel is om ’n bo-dialektiese variëteit te wees, is die standaard dikwels daardie variëteit wat deur die elite gebruik word,” meen Odendaal. Hierdie vorm word in alle sosiale domeine gebruik en het ten doel om die belange van die elite te bevoordeel, dikwels ten koste van die res van die spraakgemeenskap.

Die vraag is dus of ons nog enige nut vir standaardtale in ’n demokratiese samelewing het waar die grondwet gelyke mense- en taalregte aan almal waarborg. Odendaal voer aan dat daar tóg verskeie voordele aan ’n standaardtaal is: dit dien as ’n medium vir bo-dialektiese en geskrewe kommunikasie, hoërvlak-beroepsoefening en algemene sowel as tweedetaal onderrig. Dit is ook die taal van die media en besit ook ’n ideologiseringsfunksie wat help om groepsolidariteit onder ’n spraakgemeenskap te bewerkstellig.

Gegewe hierdie bogenoemde funksies van Standaardafrikaans, stel Odendaal nie voor dat die huidige standaard heeltemal verwyder word nie, aangesien die standaard essensiële funksies vervul wat die voortbestaan van Afrikaans help verseker. Odendaal vra eerder vir ’n herstandaardisering van Afrikaans.

Die probleem is egter dat herstandaardisering ’n redelike jong konsep is en dat daar gevolglik nog min literatuur oor die onderwerp bestaan. Daar is nietemin sekere kenmerke van herstandaardisering wat Odendaal in haar proefskrif geïdentifiseer het: herstandaardisering het ’n sterk band met standaardisering, dit poog om harmonisering teweeg te bring (dit wil sê, dit bewerkstellig eenheid tussen verskillende variëteite), en dit gaan gepaard met die demokratisering van ’n taal, ’n respek vir taaldiversiteit en die erkenning van die fundamentele gelykheid wat elke taalvariëteit behoort te geniet. Verder is daar ’n fokusverskuiwing van ideologiese na normatiewe taalbeplanning en behels herstandaardisering ’n soort taalbeplanning wat van bo na onder én van onder na bo in ’n simbiotiese verhouding geskied (dit wil sê, beide taalinstansies en die spraakgemeenskap op voetsoolvlak moet by die herstandaardisering van ’n taal betrokke wees).

Gegewe hierdie bogenoemde kenmerke het Gerda Odendaal en Christel Swart met ’n werkende definisie van herstandaardisering vorendag gekom wat die herstandaardisering van Afrikaans kan rig:

Herstandaardisering is die doelbewuste hersiening van die vorm, funksie en status van ’n standaardtaal in ’n poging om ’n bo-dialektiese taalvorm daar te stel wat verteenwoordigend is van die hele spraakgemeenskap. Die behels gewoonlik dat een of ander ongeregtigheid in die taalgemeenskap reggestel word, deurdat die standaardtaal meer inklusief gemaak word om daardeur diegene wat voorheen benadeel of onderdruk is, te bemagtig. (Gerda Odendaal en Christel Swart 2012)

Gesprekke oor die herstandaardisering van Afrikaans is niks nuuts nie, herinner Odendaal die gehoor. In die tagtigerjare het veral bruin akademici gehelp om die gesprek aan die gang te sit en die afgelope paar jaar het vrae rondom herstandaardisering opnuut opgevlam. Een van die groot redes waarom die herstandaardisering van Afrikaans voortdurend in gesprekke opduik, is as gevolg van die toestand van diglossie waarin die taal verkeer, soos Ponelis dit reeds in 1994 gediagnoseer het. Odendaal verduidelik dat diglossie die verskynsel is waar twee verskillende variëteite van ’n taal in afwisseling en/of naas mekaar deur ’n taalgemeenskap gebruik word: een vorm in formeler/hoër status situasies en die ander een in minder formele/laer status situasies.

Die probleem met diglossie is dat die omgangstaal van die standaardtaal losgesny word en die omgangstaal nie meer die standaardtaal voed nie. Hierdie simbiose is egter noodsaaklik vir die voortgesette oorlewing van ’n taal se funksies. Destandaardisering en taalsterfte (in ekstreme gevalle) is twee van die belangrikste negatiewe gevolge van diglossie op ’n taal.

Dit is duidelik dat daar onder alle rassegroepe ’n groot deel van die Afrikaanse spraakgemeenskap is wat so vêr van die standaardtaal verwyder voel dat hulle eerder hul kinders na Engelse skole toe stuur en in sommige gevalle slegs Engels met hul kinders praat, vertel Odendaal.

Odendaal het drie redes vir die diglossiese situasie in Afrikaans geïdentifiseer: die vernederlandsing van Afrikaans tydens die ontwikkeling van Standaardafrikaans in die laat negentiende eeu; die miskenning van die invloed van Engels op Afrikaans; en die miskenning van ander Afrikaanse variëteite.

Die idee van taalsuiwerheid het hoogty in die negentiende eeu gevier. Volgens hierdie konsepsie word sekere taalvorme as “suiwerder” en “beter” as ander beskou. ’n Natuurlike uitvloeisel hiervan is die Stammbaum-teorie (Duits vir stamboom), waarvolgens een taal gebruik word om ’n sekere “suiwerheidstatus” aan ’n ander taal te verleen. In die geval van Afrikaans is Nederlands natuurlik gebruik om hierdie funksie te vervul, met die gevolg dat die kreoolse aard van Afrikaans heeltemal misken is. Odendaal meen dat dit vir vroeë taalkundiges om ideologiese oorwegings belangrik was om die kreoolse aard van Afrikaans te versteek deur die Nederlandse wortels van Afrikaans te oorbeklemtoon.

Hierdie miskenning het gelei tot die oormatige adleksifisering van woorde uit Nederlands. Afrikaans is as die “suiwer dogter van Nederlands” deur die eerste standaardiseerders beskou, aldus Odendaal. Een taal se norms kan egter nie op ’n ander taal afgedwing word nie – hierdie “kunsmatige” worteling van Afrikaans in Nederlands het veroorsaak dat die standaard nog altyd vêr verwyder van die daaglikse gebruik van Afrikaans was.

Die tweede rede vir die diglossie in Afrikaans is die miskenning van die invloed van Engels. As verhelderende voorbeeld het Odendaal die volgende uittreksel uit ’n brief gelees:

Van aand gaan ons practice by die pastorie – wil jy ni saam gaan ni? Connie Newnham zal dar wees, en dan zal ons net ’n jolly aand deurbring. Ik zal so like dat jy ver haar ontmoet. Zy is altyd zo bright, al is dit maar treurig in hulle huis dan lag zy altyd. Ons het di pledge gesign om ver Dr. Newnham aan te moedig om ver hom terug te hou van di drank. Ons draag now almal wit ribbons want ons behort aan di association. Een van di dage gaan ons Dr. Newnham vra om di pledge te sign en dan kry hy oek ’n “white ribbon”.

Hierdie brief, gedateer 10 Mei 1895, is deur ene Johanna Brummer geskryf. Die vraag is waarom die algemene gebruik van Engels so skielik met die draai van die twintigste eeu gekwyn het en die antwoord is redelik vanselfsprekend: die Suid-Afrikaanse Oorlog van 1899-1902 het tot ’n intense en verstaanbare antagonisme teenoor Engels gelei.

Die miskenning van die invloed van Engels op Afrikaans het egter veroorsaak dat baie Romaanse vorme ten koste van Germaanse vorme uit die taal geweer is, al was die Romaanse vorm in sommige gevalle die algemener/beter vorm. Hierdie atrofiëring as gevolg van standaardisering is een van die groot redes waarom Afrikaans tans in ’n toestand van diglossie verkeer.

“Die derde oorsaak van diglossie is die miskenning van ander variëteite,” sê Odendaal verder. Baie moeite is gedoen om Afrikaans as die “taal van die Afrikaner” te bevorder toe die taal nog ’n jong boompie was, maar in der waarheid word drie historiese en kontemporêre variëteite van Afrikaans deur linguiste erken: Oranjerivierafrikaans, Oosgrensafrikaans en Kaapse Afrikaans, met Oosgrensafrikaans wat as die fondasie vir Standaardafrikaans gebruik is.

Omdat die standaardisering van Afrikaans ’n eksplisiete ideologiese affêre was, is die taal van baie van sy “slawe” (Maleis-Polinesiese en Khoe)-elemente gereinig, soos Odendaal dit stel. Die skepping van Standaardafrikaans het daarom ook direk bygedra tot die stigmatisering van die ander variëteite en die vervreemding van die meerderheid van die taalgemeenskap. Odendaal se punt is dat die meeste Afrikaanssprekers bruin is, maar dat hulle taalgebruik tot ’n groot mate nie in die standaardtaal gereflekteer word nie.

Sy verwys in hierdie verband ook na navorsers van Universiteit Stellenbosch se Algemene Taalwetenskap departement wat vergelykende intelligensietoetse op bruin kinders gedoen het. Die toetse is in beide Standaard- en Kaapse Afrikaans afgelê en die kinders het reg deur die bank beter met die Kaapse Afrikaans toetse as die Standaardafrikaans toetse gevaar. Verder het die gebruik van Standaardafrikaans as onderrigmedium ook psigologiese gevolge op kinders wat Kaapse Afrikaans as huistaal praat: hulle voel minderwaardig as gevolg van die taal wat hulle gebruik en is dikwels ook die slagoffers van diskriminasie. Hierdie verskynsel is onaanvaarbaar in ’n demokratiese samelewing, meen Odendaal.

Om die bogenoemde redes voer Odendaal aan dat die herstandaardisering van Afrikaans noodsaaklik is om die volhoubaarheid van die taal te verseker en die diglossiese toestand waarin die taal verkeer uit te wis. “Meer elemente van ander variëteite moet ingesluit word sodat alle sprekers ’n tuiste in hulle eie taal sal hê,” beaam Odendaal. Hierom het Odendaal ook met ’n herstandaardiseringsmodel vorendag gekom wat deel uitmaak van haar doktorale proefskrif. Kom ons hoop daar is voldoende ondersteuning vir die herstandaardisering van Afrikaans sodat ons almal eendag om dieselfde woordvuur sal kan sit.

* Gerda Odendaal se proefskrif Die herstandaardisering van Afrikaans: ’n Praktiese benadering met die AWS as gevallestudie, sal binnekort op SUN Scholar en in die JS Gericke biblioteek beskikbaar wees.

Comments