Reports

Om donker hoeke te belig

Sirkusboere: Dr Piet Croucamp gesels met Sonja Loots, 8 Maart 2012, US Woordfees, Stellenbosch

JONATHAN AMID

Met die lees van skrywer, akademikus, joernalis, en draaiboekskrywer Sonja Loots se insiggewende Sirkusboere (NB uitgewers), word lesers genoop om parallelle tussen die gebeure van die Anglo-Boereoorlog en die politieke klimaat van die hedendaagse Suid-Afrika te trek. Loots vra ons om (saam) na te dink oor diskoerse van ons land se geskiedenis wanneer die stilte ons faal, wanneer die alledaagse politiek ’n oorvloed tergende vrae oor ons toekoms stel, maar so min sekerheid bied.

In ’n stampvol Boeketent het dosent in politieke wetenskap en sosiale kommentator by die Universiteit van Johannesburg, Dr Piet Croucamp, ’n heerlike en soms aweregse gesprek met Loots gehad. Dit was ’n uurlange gesprek gekenmerk deur spitsvondigheid, barmhartigheid en intellektuele skerpsinnigheid.

Uit die staanspoor het Croucamp sy bewondering vir Loots se historiese tafereel (om S.J Naude se onlangse resensie op Slipnet aan te haal) uitgespreek deur dit as ’n “uitstaande letterkundige ervaring” en “een van die boeiendste boeke” van die afgelope paar jaar in Afrikaans te prys.

Croucamp het dit aan Loots gestel dat haar werk uiteraard poog om ’n groot verskeidenheid van karakters (wit, swart, manlik, vroulik, Engels en Afrikaans) se trauma en verlies te verwoord, dat die herdenking van die oorlog die kans gebied het om weer na ’n “byna mitiese” deel van ons geskiedenis te kyk. Loots het begin deur te antwoord dat die drie jaar wat sy in Londen deurgebring het ’n tyd van isolasie en vervreemding vir haar geword het, en dat idees rondom Sirkusboere in daardie tydstip verhelder het.

Loots noem toe dat sy vir tien jaar geworstel het met die inhoud, karakter en stemming van die roman, dat sy ’n tipe “herdink” wou moontlik maak deur die veel-stemmigheid van haar werk, en dat sy wou skryf oor uiteenlopende vorms van magsverlies op ’n manier wat trou bly aan historiese gegewens.

Dit is veral boeiend om na Loots te luister wanneer sy op kleurvolle, omvangryke wyse verwys na van die tekste wat as inspirasie vir Sirkusboere gedien het.

Loots noem (soos verwag) die historiese argiewe as ’n belangrike bron van inligting, maar dit is die verwysings na skrywers soos P.G Du Plessis se Fees van die Ongenooides, Ingrid Winterbach se Niggie, en Marlene van Niekerk se Agaat wat die roman se veelvlakkigheid en durf implisiet onderstreep.

Loots noem ook die opspraakwekkende Life & Times of Michael K van JM Coetzee as ’n teks wat die weg gebaan het om oor omstrede kwessies soos magsverlies en trauma te kan skryf op ’n deernisvolle wyse.

Sirkusboere het tien jaar geneem om in Loots se kop te ontwikkel, voor sy dit uiteindelik in tien en ’n half maande voltooi het. Loots het “soos Ben Viljoen gevoel” toe sy in Londen gewoon het, en waar sy eers vir Viljoen as ’n besonder “sexy” en aantreklike man gesien het, het sy geleidelik “wraak” op hom geneem met die skryf van die boek.

Hierdie uitlating het die gehoor behoorlik aan die lag gehad, net soos die oombliklike stilswye toe Croucamp die skrywer oor die skryf van sekstonele gepols het. Loots het hardop gelag, haar kop geskud en die ondeunde Croucamp geen verdere ammunisie gegee nie.

Met die Patriot Afrikaanse Woordeboek bedags op haar tafel en snags onder haar kopkussing, en deur party dae tot 4000 woorde te skryf, het sy uiteindelik ’n boek gelewer waarmee die uitgewers en die skrywer self baie gelukkig is. Dit nadat Loots eers baie van die boek in Engels probeer skryf het, en verskriklik met die tipe vertel-strategie van die boek geworstel het.

Voor die skryf van Sirkusboere het Loots gekyk na geskiedkundige fotos van swart persone, en besef dat die karakters waaroor sy skryf almal moet leef, dat haar woorde ’n tipe ivoortoring-vertelling van ’n vlees-en- bloed geskiedenis moes vermy. Haar skryfwerk moes dus “lig skyn” op “donker hoeke” sonder om verwyderd van die karakters voor te kom.

Sy beken dat die Afrikaanse televisiereeks, Sewende Laan, haar leerskool was wat dialoog betref, en dat sy daar opnuut die uiterste belang van dialoog om as dryfveer te dien, (her)ontdek het.

Lesers van Sirkusboere het teen die einde van die gesprek as deel van die gehoor hul stem dik gemaak, en was dit eens dat die boek werklik sy verskillende karakters tot hul eie reg laat kom. Daar was ’n onverwagse ontroerende oomblik toe Loots die wyle skrywer Kabelo Sello Duiker noem, ’n mede-draaiboekskrywer op die tydstip toe sy aan die boek begin dink het. Loots noem toe met trots dat Duiker haar moed ingepraat het en die “groen lig” gegee het om as wit vrou die stemme van swart mans op papier weer te gee.

Oor die vraag van waarheid in die roman was Loots op die man af, en noem sy dat haar werk die idee van universele waarhede en ’n moontlike meesternarratief kortwiek. Die skrywer was bra huiwerig om konkrete ooreenkomste uit te wys tussen gebeure van die verlede en die hede, maar was instemmend oor Croucamp se uitgangspunt, dat haar boek wel geruime stof tot nadenke bied, veral oor kwessies rakende die “psigiese wonde” van die verlede.

Alhoewel Loots self onseker is oor haar volgende projek, lei daar min twyfel dat Sirkusboere bestem is om ’n reuse impak op lesers en die land se kulturele terrein te maak.

Comments