Reports

’n Intieme gesprek

Rosalie en Adam Small in gesprek met Joan Hambidge, Art in the yard Gallery, 16 Mei 2014, Franschhoek Literary Festival

JONATHAN AMID

Vir diegene met ’n groot belangstelling in en agting vir die letterkunde, het die afgelope naweek se Fees sommer baie gebied. Een van die sessies wat my lank sal bybly, was die gesprek tussen die bekende digter, Adam Small, met sy vrou Rosalie aan sy sy, en die gerekende akademikus en digter Joan Hambidge, wat ’n deernisvolle, geduldige gespreksgenoot vir die brose Small was. Wat my in besonder opgeval het, is die sonderlinge manier waarop Hambidge die gesprek skoei op die verhouding tussen die digter en sy tydsgenote, in Small se geval die meesterlike NP van Wyk Louw, ’n bedrewe vakman wat lank na sy dood steeds uittroon as een van ons land se groot digterlike geeste.

Voor Small se bundel, Klawerjas, in 2013 verskyn het, was die digter ’n verstommende veertig jaar lank stil. Small verwys na ’n koerantberig wat onlangs verskyn het, waar daar berig word dat die digtersgemeenskap inderdaad vir Small “verwerp” het, en dat hy daarom “stil” geword het. Hy maak dit as “strooipratery” af, en verduidelik presies hoeveel ondersteuning en liefde hy vanaf ’n reeks digters, wat onder meer Hambidge insluit, ontvang het. Hulle het hom nog altyd ondersteun, aldus Small. Dis duidelik dat hy op die laat stadium van sy lewe nog geen van sy lewenslus en drif verloor het nie.

Hambidge verwys na’n brief wat Van Wyk Louw vir Small geskryf het waar hy Small se debuut, Die Eerste Steen, prys. ’n Afdruk van die brief verskyn in Klawerjas. Small hou veral van die antwoord “oorreding deur woorde pleks van geweld” op die vraag: “Wat kan ’n mens doen?” Openlikheid en kritiese gesprek maak Van Wyk Louw vir hom ’n geesgenoot.

Hambidge haal Harold Bloom se the Anxiety of Influence aan, en lees ’n lang gedig opgedra aan Van Wyk Louw. Small noem dat hy baie by Van Wyk Louw geleer het, maar ook van hom verskil het oor die idee van “lojale verset” teen die volk. Die gesprek draai na die onderwerp van Verwoerd, en Small noem dat Van Wyk Louw baie sterk gekant was teen die “Amsterdammer” Verwoerd, wat wou keer dat mense vra wat ’n “volk” is. Small se gedig oor Rembrandt word spoedig daarna voorgelees, met die besonder treffende slot: “die verweg binneland van die eie siel”. Waar van Wyk Louw homself as Marco Polo voorgestel het, is Small ’n meer “innerlike” reisiger.

In die laaste deel van die gesprek, kom Nelson Mandela die mens ter sprake. Hier noem Small dat hy beslis Mandela se bydrae tot versoening hoog ag, maar dat mense die staatsman tot meer as net ’n mens verhef het, en dat dit hom pla. Hier kom Small se sterflikheid beslis ook by my op soos ek na die wyse, gryse digter luister. Daar is versoeningsgebede in Klawerjas, waar Small onder meer skryf oor die stryd teen verafgoding. Small sien homself as ’n individu wat moeilik by ’n groot organisasie aanklank vind.

Oor die skeppingsproses sê Small se vrou, Rosalie, dat Klawerjas as bundel al sedert 2012 vaste vorm begin aanneem het. In die verloop van tyd het Small oor die jare selfs op inkopielyste gedig!

Op vrae uit die gehoor oor die skryf van Kanna hy kô hystoe, en hoekom sy van “Small” is en nie “Smal” nie, antwoord die digter dat hy baie met swaarkry en armoede geïdentifiseer het toe sy pa die armes in Goree bedien het, en dat Kanna op hierdie ervaring geskoei is. Met baie van sy eie menswees in Kanna opgesluit, is dit eindelik vir Small ’n sielereis, een wat vir my nog neerslag vind met ons alledaagse realiteit vandag. Ter afsluiting noem Small dat hy sy van as “Smol” spel wanneer hy Kaaps skryf. Dit was voorwaar ’n plesier, ’n eer en ’n voorreg om na Small en Hambidge se gesprek te kon luister.

Tagged , , , , , , ,

Comments