Reports

Mense woon hier

 

479-johann-rossouw

Die bekendstelling van Verwoerdburg deur Johann Rossouw, 14 Maart 2014, Woordfees, Stellenbosch.

BIBI BURGER

In sy “Spooksaam” toespraak oor vertaling argumenteer Johann Rossouw dat verskillende Suid-Afrikaanse gemeenskappe moet leer om met mekaar te praat en na mekaar te luister, eerder as om vertroue te plaas in die staat. Die staat wil, volgens hom, alle plekke oor dieselfde kam skeer. Rossouw verwys na Danie Goosen se uitspraak dat lokale plekke lewend gehou word in letterkunde, en dit is klaarblyklik wat Rossouw probeer doen in sy roman Verwoerdburg.

Die roman het verskeie vertellers, insluitend ’n hoofkarakter Jakes wat ’n skrywer met ’n suksesvolle debuutroman agter die rug is. Soos Rossouw aan sy gespreksgenote by die bekendstelling, die filosoof Pieter Duvenhage en Umuzi-redakteur Francois Smith, verduidelik, is die roman outobiografies in die opsig dat dit gaan oor werklike historiese gebeure en dus in ’n mate sy siening van hierdie gebeurtenisse verteenwoordig. Hy haal Milan Kundera aan om te sê dat ’n roman altyd ’n fiksionele vervulling van die skrywer se outobiografiese verlange en begeertes is.

Rossouw redeneer dat die taak van elke individu (nie net dié van ’n skrywer nie) is om hulle ruimtelik- en historiesbepaalde identiteit (in sy geval dié van Afrikaner van ’n spesifieke geslag) te erken en vanuit daardie posisie eties om te gaan met die werklikheid. Dit is dus vanuit hierdie posisie (en vir ’n teikengehoor wat soortgelyk is) wat Rossouw in die roman skryf oor die geweldige veranderinge in Suid-Afrika wat sy geslag (mense wat min of meer van 1983 tot 1992 tieners was) beleef het. Hy voer aan dat hierdie veranderinge traumaties was, veral ook die besef dat die (apartheids) waardes waarmee hulle grootgemaak is tóé reeds gekorrupteer was. Rossouw sê dat hy wil glo dat om te skryf insig en berrusting bring, of ten minste ’n manier om met die verlede saam te leef, al is dit net ’n besef dat “die spoke nou maar meereis”.

Jakes, die reeds genoemde hoofkarakter, probeer aanvanklik weghardloop van sy spoke en verlede deur in Morokko te gaan woon. Francois Smith vra aan Rossouw of daar in die feit dat Jakes ’n skrywer is, kritiek lê op Afrikaanse skrywersmodelle. Rossouw sê ja, hy probeer deur die roman die liberale individualistiese idee dat jy moet weggaan en jou rug op jou verlede moet draai om jouself te kan verstaan, kritiseer. Hy het sy MA-verhandeling oor Foucault gedoen en sê dat hy nou baie skepties is oor die Foucaultiaanse idee dat jy van jou lewe ’n kunswerk moet maak. Hy beskou dit as ’n vorm van estetiese masturbasie en solipsisme. In plaas van hierdie distansiëring pleit hy, soos wat reeds duidelik behoort te wees, vir ’n tipe provinsialisme en interaksie met plek en gemeenskap, vir gemeenskap as werkwoord.

Dit herinner my aan ’n onlangse inskrywing op Maria Popova se blog waarin die filosoof Martha Nussbaum aangehaal is: “You see people doing that today where they feel that society has let them down, and they can’t ask anything of it, and they can’t put their hopes on anything outside themselves. You see them actually retreating to a life in which they think only of their own satisfaction, and maybe the satisfaction of their revenge against society. But the life that no longer trusts another human being and no longer forms ties to the political community is not a human life any longer.”

Wat hierdie punt betref is dit vir my interessant dat Francois Smith noem dat daar geen “Ander” is in die roman wat terugpraat na die hoofkarakter nie. Daar is byvoorbeeld geen noemenswaardige swart of jonger of ouer karakters nie. Hierop antwoord Rossouw deur te sê dat hy geen nasionale ambisies het of probeer om vir die hele land te praat nie. Hy het sy gehoor gekies, “besluit in watter park om te speel en probeer om daar ’n plek te kry”. Die rol van Ander lesers is by hierdie boek dié van toeskouer. Vir my, as iemand wat naby staan aan die generasie oor wie die boek gaan, en vir wie dit geskryf is, maar tog ook verwyderd is van hulle, sal dit ’n interessante ervaring wees om die boek te lees. Ek is nuuskierig om uit te vind hoe ek hierdie posisie van toeskouer sal beleef: sal ek voel dat die roman tog ander stemme, korrektiewe op die alleenbetoog van die skrywer, benodig? Of sal ek Rossouw se bewering dat die roman nie universele pretensies het nie oortuigend vind?

Tagged , , , , , , , ,

Comments