Reports

Jong skrywers skryf oor ou lesse

Bekendstelling van Nuwe Stories, 13 September 2012, Kaapse Hotelskool, Granger Baai.

TANYA VAN BUUREN

Om in jou twintigs te wees is nie aldag maklik nie. Baie van jou dae word deur ’n waansinnige gejaag gekenmerk waarin jy die hele lewe moet uitwoed, want anders gaan jy jou dertigs as ’n volslae pateet betree. Al wat vir hierdie toestand help, is wanneer jy opnuut besef dat jou foute en vrese universeel onder mede-“millenials” is en jy húlle hoegenaamd nie as onsuksesvolle patete beskou nie. Allermins. Ook húlle het nog nie alles uitgewoed nie, want as hulle het, sou hulle nie geskryf het nie.

Die lewe is ook nie altyd mooi nie, maar dit was sommer pragtig toe Nuwe Stories verlede Donderdagaand by die Kaapse Hotelskool bekendgestel is, met liters en liters gratis wyn. ’n Seeluggie, wat jou amper duiselig maak, nooi homself van die strand af in. In die hoek van die vertrek staan ’n beskeie tafel met ’n bordjie wat in wit sierskrif die woord “Imagine” fluister. Die belofte van nuwe stemme en ’n nuwe geslag skrywers hang in die lug.

Nuwe Stories, uitgegee deur Human & Rousseau, bestaan uit 21 kortverhale van skrywers jonger as dertig jaar. Die samesteller van die boek en bekende skrywer, Jeanette Ferreira, beskryf Nuwe Stories in haar voorwoord as die “mondigwording van nuwe Afrikaanse verhale” en sê in haar toespraak dat die boek uitstekend daarin slaag om as leesstof vir die jonger generasie te dien.

Suzette Kotzé-Myburgh, die mede-samesteller, vertel dat dit opvallend is hoe selfversekerd die stemme van hierdie jong skrywers is: hulle weet presies wát hulle wil sê en hóé.

Voordat die wenners van die wedstryd aangekondig word, word die skrywers een vir een vorentoe geroep om ’n kopie van die boek te ontvang. ’n Kort opsomming van elkeen word deur die seremoniemeester Christine Wessels gelees. Dit is verrassend hoe veelsydig elkeen is ten opsigte van persoonlikheid, kwalifikasies en belangstellings – dis duidelik dat die storie wat voor jou is en die storie wat agter jou is nie naastenby so belangrik soos die storie binne-in jou is nie.

Left to right. First row: 1st Prize: Bibi Slippers, Runner-up: Alida Eloff, Runner-up: Henali Kuit Second row: Willim Welsyn, Donovan Greeff, Trish Goosen, WilkenCalitz, Carla Kargaard, Madre Roothman, Lezandra Thiart Third row: Armand Fourie, Alettie van den Heever, Carolyn Meads, Nina Botes, Marni Bonthuys, Christina van Deventer, Constant van Graan

Alida Eloff en Henali Kuit word as naaswenners aangewys vir onderskeidelik “Wentzel” en “Alles kom tot niks” en Bibi Slippers span die kroon met haar verhaal “Ikoon”. Professor Henning Pieterse van die Universiteit van Pretoria lewer namens die beoordelaars kommentaar oor “Ikoon” en beskryf dit as ’n dubbelsinnige verhaal wat goeie sosiale kommentaar oor die wêreld van ontwerp en skryf lewer. Bibi lag skamerig en laat weet dat dit maar eintlik ’n “lawwe storie’’ is. In haar toespraak vertel sy glimlaggend dat sy glad nie verwag het om te wen nie omdat sy vas oortuig was dat haar storie waarskynlik “so sewende beste” was.

Bibi Slippers lewer haar toekennings toespraak

Nuwe Stories wemel van interessante temas en getuig van die skrywers se fyn waarnemingsvermoëns. Die stories dek ’n wye spektrum emosies waarmee ons byna daagliks in ’n verwronge werklikheid moet worstel. Die boek is dodelik eerlik tot op die punt dat jy ongemaklik voel en ineen wil krimp, maar dit dwing jou om met wydgesperde oë op ’n nuwe manier na ’n ou, bekende saak te kyk.

Menseverhoudings en die ontnugterings wat daarmee gepaard gaan is ’n terugkerende motief en verkry pynlik akkuraat gestalte, hetsy op lighartige, tragiese of surrealistiese wyse.

Die leser word op parmantige en vernuftige wyse uitgedaag om oor alle verhoudings te besin: Liefdes- en familieverhoudings, die verhouding met jouself, met jou God, met die planeet en met diegene wat deur ons verstoot word. Sommige verhale is moeiliker om te verstaan, maar die emosie wat daarin gevind word maak die les wat daaruit geleer word onvermydelik.

Marga Collings van Human & Rousseau kondig aan dat dit vir die volgende drie jaar ’n uitgemaakte saak is dat Nuwe Stories uitgegee gaan word – ’n gulde geleentheid vir elke aspirant-skrywer onder dertig om sy of haar stem vir volgende jaar se wedstryd te begin opwarm.

Die “Imagine”-bordjie in die hoek van die vertrek word skielik witter en lyk asof dit gloei.

Imagine net álmal skryf die “lawwe” stories wat binne-in hulle is en álmal anders lees dit. Niemand sal dan óóit weer alleen hoef te voel nie.

En imagine net hoe anders die wêreld sal lyk.

Comments

Joe says:

Dis sommer lekker! Veels geluk aan almal.

Melt Myburgh says:

Baie geluk aan die nuwe stemme. Ek weet ons gaan nog baie van julle hoor. Trots!

AJ says:

Goed geskryf!

Hermann says:

Ongelooflik. Tanya en kie, wat ‘n indrukwekkende gedagte dat ons sulke uitsonderlike talent in ons land het! Welgedaan aan die jong skrywers wat ons hier het!

Henry TP says:

Baie interessant. Meer! Meer!

Carla van der Spuy says:

Nou kan ek nie wag om dit te lees nie.
Baie geluk aan ons talentvolle jong skrywers.