Reports

Uit die mond van die leser hoor jy die waarheid

Uit die mond van die leser, US Woordfees, 6 Maart 2012

LELANIE ROUX

Die ontwikkeling van webwerwe soos LitNet.co.za het die wêreld van resensies drasties verbreed tot in ’n uiteenlopende ruimte waar elke leser sy mening aan die publiek bekend kan maak. Op Dinsdag 6 Maart het drie vrouens hul menings oor hierdie fenomeen uitgespreek, waaronder Wilna Adriaanse, bekende Afrikaanse skrywer, Carina Diedericks-Hugo, skrywer van, onder andere, die kinderboek-reeks Thomas, en Naomi Bruwer, Senior Inhoudsbestuurder by LitNet, wat haar eerstehandse ervaring in kuberresensering kon deel. Die gesprek is gelei deur teksontwikkelaar Madri Victor.

Dit raak al hoe duideliker dat vandag se literêre wêreld totaal en al ’n ommekeer beleef het in die laaste 20 jaar. Die leser speel vandag ’n groter en meer merkwaardige rol in die produksie van die literêre teks. Mense se menings raak al hoe belangriker; skryfkuns is nie meer onderdanig aan die mening van belese, beroemde koerantresensente nie. Die aandag val nie meer op die skrywer of die koerantresensent nie, maar op die leser self.

Die groot vraag is of ons regtig die waarheid vanuit die mond van die leser kry. Is dit genoeg om, as skrywer, jou boek so te skaaf sodat dit voldoen aan die leser se wense? Is die leser geregtig op sy mening en is dit die moeite werd om jou skryfkuns aan te pas volgens jou teikenmark se mening?

Volgens Adriaanse word die meeste terugvoer op haar boeke deur die internet ontvang, veral in die vorm van e-posse. Aangesien hierdie soort terugvoer meestal aanhangersbriewe is, is dit positief en vol lofprysing. So lekker soos wat dit is om geprys te word vir jou talent en jou kuns, bly dit tog moeilik om die waardevolle terugvoer tussen die massas uit te soek. In jou poging om jou skryfkuns te verbeter met die doel om jou teikenmark te verbreed, vestig jy tog jou aandag op die menings van jou lesers. Tog kan jy nie as skrywer elke leser gelukkig hou nie. Daar is natuurlik ook die kwessie rondom wie se resensie jy in ag neem, en wie s’n jy uitgooi. Jou facebook-aanhangers en vriende sal hul menings liefs positief hou in die hoop dat ’n vriendskap nie belemmer word nie. Gevolglik rus die belangrike resensies grootliks in die woorde van diegene wat dit anoniem weergee.

Litnet het gevolglik ’n databasis op die internet geskep waarop enigiemand sy mening en sy gevoelens oor skryfkuns kan deel. Die internet het sedert sy ontwikkeling gegroei van ’n aanlyn-joernaal tot in ’n wêreldgemeenskap waar elke individu geregtig is op sy mening – of dit nou positief, negatief of bloot ongeskik is. Elkeen het sy spreekbeurt. Elke leser is vandag aktief betrokke in die evaluering van literêre werk. Bruwer neem dit ’n stap verder deur te sê dat jy as leser self eienaarskap kan neem van LitNet. Jy het die reg en die voorreg om eienaarskap te verwerf in die terugvoer ruimte van LitNet self.

Wat uitstaan in hierdie “nuwe” wêreld wat deur gelyksoortige webwerwe geskep is, is die skrywer se geneigdheid om internet terugvoer hoër en meer waardevol te ag as die van ’n belese, professionele koerantresensent. Diedericks-Hugo lig die verskil tussen tradisionele en moderne resensering uit deur haar ervaring van aanlyn-resensies te omskryf in ’n meer eerlike en geloofwaardige vorm van terugvoer in vergelyking met die formele aard van koerantresensies. Die feit dat professionele resensente voorgeskryf word in hul benadering tot teksanalise, bring na vore die skrywer se belangstelling in sy leser se mening bo sy belangstelling in kritiese kritiek. Internet databasisse soos LitNet skep die geleentheid vir skrywers om ’n wyer en dikwels interessanter insig te kry oor die algemene indruk op hul skryfkuns. Dit is natuurlik dikwels vir skrywers meer insiggewend om te hoor wat hul teikenmark van hul werk dink as om ’n resensie te lees wat aan ’n resensent voorgeskryf is om te publiseer.

Bo en behalwe die waarde van Jan-alleman se mening is daar vandag nie meer so baie professionele resensente soos 20 jaar gelede nie. Hoewel LitNet self verskeie afdelings het waarin academici hul resensies kan publiseer (en so ook ander belese resensente van akademiese agtergronde), verskyn die meerderheid van resensies steeds in die allemansafdeling. Kritiese resensies het die vermoë om diep en ingeligte kommentaar oor werk te lewer, maar lesers-kommentaar word steeds bo dit verkies. Kritiese resensente het nogmaals ook die geneigdheid om hul kritiek te baseer op agtergrondkennis, of werke wat hul al voorheen gelees het, met die gevolg dat hul dikwels vergelykings maak tussen die werk wat hul tans kritiseer en ander werke. In sekere gevalle belemmer dit hul analise omdat hulle bloot kritiese vergelykings maak in plaas daarvan om die spesifieke werk te analiseer vir wat dit bereik of aanspreek.

Ten spyte van die waarde wat geheg word aan allemansresensies, is daar tog die probleem wat die te kort aan hekwagters op die web betref. Met die dat enigiemand sy mening kan lig, is dit volgens Diedericks-Hugo “asof woorde goedkoper geraak het”. Skrywers wie se werk nie aanvaar word vir publikasie nie het deesdae die geleentheid om hul werk op die internet te plaas en ’n aanhangersbasis op te bou, ongeag of hul werk die waarde dra van dié wat wel gepubliseer is. Die waarde van goeie werk word dikwels geminag. So wonderlik soos wat die kuberruimte vir skrywers is om blootstelling te kry, so ook raak dit ’n plek waarin hul werk verlore raak tussen die massas. Dit bly dus ’n uitdaging om te midde van die hope terugvoer wat op jou werk ontvang word, kop bo water te hou en die waardevolle, betekenisvolle en skrywingsverrykende resensies uit te sif. Dit bring ons dus terug na ons aanvanklike vraag: Is die leser se mening regtig so waardevol soos wat dit voorgee? Gevolglik kan ons ’n antwoord bereik deur te besef dat formele resensies steeds van kardinale belang is, aangesien dit hiérdie resensies is wat uitstaan as insiggewende, betroubare terugvoer aan enige skrywer.

 

 

Comments