Reports

Die vrees en ekstase van ’n eerste versameling

GELEENTHEID: Eerste Versamelinge (22 September, Distrik 6 Museum)

KARLIEN VAN DER SCHYFF

‘n Kykie na die digters se angs en vreugde met die publikasie van ‘n eerste bundel. Rustum Kozain, Andries Samuel, Bibi Slippers en Jasper van Zyl.

Vir digters wat uitdruklik gevra is om oor angs en vrees te praat, het Rustum Kozain, Andries Samuel, Jasper van Zyl en Bibi Slippers besonder vreesloos en selfversekerd voorgekom tydens die Eerste Versamelinge-sessie by die Open Book fees. Dié byeenkoms het vier digters wat hulself in verskillende fases van debuutbundel-angs bevind bymekaargebring om te praat oor die vrees en vreugde wat met die publikasie van ’n eerste bundel gepaard gaan.

Rustum Kozain

Rustum Kozain se bekroonde debuutbundel, This Carting Life, het in 2005 verskyn. Hy het baie kortliks oor die bepaalde angs en verwagtinge gepraat wat ’n suksesvolle eerste bundel vir ’n daaropvolgende bundel inhou. Hy het ook tergend gesê dat hy in Engels gaan voorlees, aangesien hy meer as een glas wyn nodig het om poësie in Afrikaans voor te dra. Een van die gedigte wat hy uit This Carting Life voorgelees het, “Winter 2003”, tree wel op ’n baie ooglopende wyse in gesprek met een van die mees bekende digters in die Afrikaanse literêre tradisie, naamlik N.P. van Wyk Louw. In “Winter 2003” haal Kozain Van Wyk Louw se “Nog eenmaal wil ek” aan om die komplekse identiteitspolitiek van Afrikaans as taal uit te lig:

Kaalvoet, we’d say, as an armboer.
Slavetongue become witmanstaal:

Nog eenmaal wil ek in die skemeraand
weer op ons dorp en by ons dorpsdam staan,
weer met my rek óp in die donker skiet,
en luister, en al word ek seer en dof,
hoe die klein klippie ver weg in die riet
uit donker in die donker water plof
.

And witmanstaal the slave’s tongue
in caricature,
the djy en djou of the laughing coon
the snoek and jam
the picture expected of me.
But all I am, will ever be
is a different tree.
So fuck Caliban and his iambic task.

“Winter 2003” is ’n ontroerende en kragtige gedig, terwyl die agtergrond-beelde van die Distrik 6 Museum se Tafelberg diorama ’n selfs groter emosionele oortuigingskrag in Kozain se woorde ontlok het. Die gedig “Cape Town, Jerusalem”, wat die wonderlike frase “the tongue its own exile” bevat, het tot dieselfde tema in dié spesifieke lokaal gespreek.

Andries Samuel

Andries Samuel was volgende aan die woord en het verkies om eerder oor die voorreg as die vrees van ’n eerste bundel gepraat. Samuel het, onder andere, uitgebrei oor die voorreg om te eksperimenteer; die voorreg van ’n moedertaal-digter om ’n “dieper eksperimentering in die strukture van taal” uit te voer, asook die voorreg om te eksperimenteer met die uitleg van teks en beeld. Aangesien die omslag van Samuel se debuutbundel, Wanpraktyk (2011), met lyntekeninge van wasige strukture pryk,  is dit vanuit die staanspoor uit duidelik dat die struktuur van teks en taal vir hierdie argitek-digter van uiterste belang is. Dit was dus geen verrassing toe Samuel gekies het om die gedig “Enkele tegniese besonderhede oor water” voor te lees nie, ’n gedig wat handel “oor die pyniging om ’n huis waterdig te maak”. Die eerstepersoon spreker in die gedig begin deur sê: “Ek is ’n priester in ’n sekte van water”, ’n sekte “vir die noem van antiwaterwoorde” soos “las”, “verseël”, “oorslag”, “loodlap” en “vogweringslaag”. Hierdie spreker

probeer op ’n gelyke vlak praat
met dieselfde water
wat nou net ’n paar honderd miljoen jaar bestee het
aan die erosie van die drakensberge
en ’n klompie meer
aan die vorming van die berg hier in kaapstad

Die spreker word wel deur water gedwing om met fyn en humoristiese self-ironie tot die volgende slotsom te kom:

die sekte waarin ek ’n priester is
is gereeld in die moeilikheid

Soos met Kozain se voorlesing, het die visuele voorstellings van Kaapstad en Tafelberg in die agtergrond die gedig se onderskeie temas en die poëtiese beeldspraak op ’n unieke manier uitgelig en versterk.

Jasper van Zyl

Jasper van Zyl het begin deur te noem dat hy op skool baie goed in redenaarskompetisies presteer het, maar moeilik voorgelees het, omdat ’n redenaarskompetisie ’n bepaalde onvoorbereidheid vereis waar ’n mens jouself nie hoef te bekommer oor watter reaksie jou woorde sal ontlok nie.  Volgens hom is die angs wat met die publikasie van ’n eerste bundel gepaard gaan soortgelyk hieraan, aangesien die digter hom- of haarself blootlê sonder om enige sekerheid te hê oor die tipe reaksie wat die bundel in die publieke sfeer sal ontlok. Hierdie kort staaltjie het die perfekte inleiding tot van Zyl se gedigte gebied, aangesien sy debuutbundel, Die lewe tussen pikkewyne (2001), grotendeels oor jeugdige temas, soos skool, eerste liefdes, puberteit en grootword handel. Van Zyl se poësie is egter geensins onvolwasse of onafgerond nie. Van Zyl se gedigte word eerder gekenmerk deur ’n boeiende en onverwagte wending in die slotreëls, soos in die gedig “Les”. Die gedig begin met ’n seun wat “vet koi” in die dorpsdam vang, “nes sy pa hom geleer het”. Hierdie aanvanklike visvang-les ontaard egter in ’n onverwagte dubbel-wending wanneer die seun sy vangs huis toe neem om gebak te word en die gedig ontvou:

sy moeder skrik; wys hom tereg
en kyk hom stip in die oë as sy sê
’n koi is nie ’n eetvis nie.

hy hardloop uit, stap ’n draai
om die blok, gaan sit ’n ruk
en kom eers donker huis toe

met nuwe oë. wat hy sien laat sy vel vibreer.
sy pa smeer die vyfde sy
en bid, gereed om hom
van regte vis te leer.

Bibi Slippers

Bibi Slippers is besig met haar MA in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Stellenbosch, onder leiding van Marlene van Niekerk en Willem Anker. Van haar gedigte is in Nuwe Stemme 4 gepubliseer, maar sy kon nogtans praat oor die bepaalde angs wat die publikasie van ’n debuutbundel voorafgaan. Volgens Slippers is haar digterlike angs “meer geskeduleerd” as dié van die ander digters wat tydens die byeenkoms gepraat het, omdat sy by vasgestelde sperdatums moet hou vanweë die vereistes van ’n graadprogram. Sy het ook uitgebrei oor die spesifieke digterlike angs wanneer sy op bepaalde kritiek moet wag nadat sy ’n gedig aan haar studieleiers oorhandig het. Sy het dus begin deur een van haar “vroeër vrotter verse”, “Rabbit Proof Fence”, voor te lees, en het skertsend genoem dat sy nie meer angstig oor dié gedig kan voel nie, omdat sy die gedig reeds aan hewige kritiek moes uitlewer.

Slippers het vêrder oor haar eksperimentering met “naskryfsels” gepraat. Hierdie “naskryfsels” word deur ander digters se werk geïnspireer en sal meermale ’n frase van ’n bestaande gedig leen en dit ’n nuwe wending gee. Party “naskryfsels” tree ook pertinent in ’n gesprek met ander digters, soos in die gedig “Liewe William”, na “this is just to say” van William Carlos Williams:

los asseblief
volgende keer
vir my iets
in die yskas

ek weet
dis nog nie somer nie
ek verwag
nie pruime nie

maar selfs ‘n appel sou
genoeg wees
vir my
om oor te skryf

Slippers se briljante “naskryfsels” ontlok gesprekke tussen ’n verskeidenheid digters, style, tale en literêre tradisies, van Wilma Stockenström tot Anne Sexton. Haar werk bied ’n vars, skerpsinnige interpretasie van ’n literêre kanon wat soms in geyktheid en dus ook voorspelbaarheid kan verval. Die fyn humor, oorspronklikheid en onopgesmukte lirisme in hierdie “naskryfsels” beloof dat sy nie té angstig oor haar debuutbundel se toekoms hoef te wees nie…

 

Comments