Reports

Die plesiere van die kanon

Digtersparadys, 15 Maart 2014, Woordfees, Stellenbosch.

BIBI BURGER

Ek wil hierdie verslag begin met ’n verwysing na 2013 se Nathan Trantraal/Adam Small polemiek. Vergewe my, en vertrou dat my doel nie is om slapende honde wakker te maak nie. In sy berugte berig oor Small se gedigvoorlesing by die Tuin van digters beskryf Trantraal die geleentheid as “’n gevoelsmens se droom”. Ek stem saam dat die ontvangs van Small se nuutste bundel, Klawerjas, gekleur is deur verskeie gevoelens.

Die Woordfees “Digtersparadys” wat Saterdag 15 Maart plaasgevind het was ook ’n emosionele geleentheid. Behalwe Small het twee ander seniors van die Afrikaanse letterkunde, T.T. Cloete en Wilma Stockenström, en die nuweling Hennie Nortjé, voorgelees uit hulle werk. As ek sê “senior” bedoel ek, in die geval van Cloete en Small, baie senior. Cloete is 90 en Small 78, en albei is sigbaar broos en hulle stemme swak.

Dit, sowel as hulle kanoniese status, dra by tot die stil, gewyde atmosfeer in die boeketent: almal probeer die geraas van buite en die gedreun van die lugverkoelers uitblokkeer en fokus op elke woord van die digters.

T.T. Cloete lees eerste, en sy gedigkeuse reflekteer die groot tema’s van sy werk: godsdiens en wetenskap, die verhouding tussen die twee, die goddelike ín die wetenskaplike. Nortjé se stem is sterk en hard na dié van Cloete. Die natuur, in die vorm van bome, speel ook ’n rol in sy werk. My gunstelinge is egter sy meer sardoniese gedigte oor figure wat die alleen-op-die-highway blues het, of net onder die Without wil sit. Stockenström, wat volgende lees, is self al 81, maar haar voorleesstem is nog so presies en elegant soos altyd. Sy lees ’n verskeidenheid gedigte: oor diere, die maan, die absurditeite van die mens se grootheidswaan. Adam Small is laaste aan die woord (voordat Cloete die dag afsluit met ’n laaste nostalgiese gedig oor sy kinderdae). Small lees een ouer, “Kaapse”, gedig, “Second coming 1”. Daarna fokus hy op nuwer gedigte, uit Klawerjas en ongepubliseerd. Die emosie is sterk in sy stem, en hy sê self dat hy voel ’n gedig is geslaagd as dit sy vrou, Rosalie, laat huil.

Alles wat Trantraal gepla het by die Tuin van Digters is dus teenwoordig by die Digtersparadys: sentimentaliteit en ’n grotendeelse gebrek aan ironie. Hier speel ras nie so ’n groot rol nie, maar eerder die ouderdom en status van die skrywers (Nortjé uitgesluit). Walter Benjamin sou waarskynlik vir Cloete, Small en Stockenström as “auratiese skrywers” beskryf het, omdat hulle werk ’n aura van onaanraakbaarheid het wat meer te doen het met hulle status as met die werk self. Volgens Benjamin is dit goed dat auratiese kuns uitgedaag word, en Trantraal se kritiek is dus waardevol.

Die voorlesing het my egter laat dink aan die waarde van gevestigde, kanoniese kuns. By Cloete, Small en Stockenström se voorlesings was daar geen van die pretensies en aanwensels wat mens dikwels by die voorlesings van jonger digters vind nie. Ek wil nie vir Nortjé as verteenwoordiger van jong digters voorstel nie, en ek probeer nie sê dat sy gedigte of voorlesing swak was nie, maar dit was ongelukkig in die aard van die gebeurtenis dat hy ’n bietjie bo sy gewigsklas moes boks. In die ouer digters se werk self was daar ook ’n noodsaaklikheid, ’n fokus op die regtig belangrike sake – die dood, die liefde, die aard van die bestaan. Hulle interpretasies van hierdie tema’s is uiteenlopend, maar al drie skryf met ’n dwingendheid en vertroue wat dui op jare se ervaring.

Tagged , ,

Comments