Reports

Die landskap in die digter

The Lyric ‘I’, 13 May 2012, Franschhoek Literary Festival, Franschhoek.

BERNARD VAN DER MERWE

Ingrid de Kok en Isobel Dixon het Sondagmiddag gedigte voorgelees en met Finuala Dowling by die Screening Room, ’n gesellige klein filmteater oorkant Reuben’s, in gesprek getree.

Soos ek rondom my kyk, sien ek dat ek met ten minste sewe of agt jaar die jongste persoon in die kamer is. Nietemin word ek gemaklik en begin stadig my indrukke neerskryf op die agterkant van ’n Arbeidsregvraestel wat ek moet gebruik om vir ’n toets later die week voor te berei.

Ek is in ’n kamer vol poësieliefhebbers, aandagtige lesers wat in ’n gesamentlike beswyming gaan as die laaste reël van ’n gedig ons tref. Dowling stel die volgende moeilike vraag aan De Kok: “Wat is liriese digkuns?” Almal is beïndruk deur De Kock se welsprekendheid en haar indringende antwoord. Sy praat oor die geskiedenis van die woord “liriek” en hoe dit gebonde is aan musiek, aan die lier en ook aan die stem. Sy merk op dat daar in die liriese poësie, vanweë die digterstem, ’n klem op liggaamlikheid is. Sy praat oor die praktiese funksie van liriese poësie, dat dit ’n soort tegnologie is vir die proses van onthou. Sy noem ook dat daar iets persoonlik is aan liriese digkuns, maar dat hierdie aspek tog gemoduleer word deur die vakmanskap van die digter.

Dit is iets wat opmerklik is aan beide De Kok en Dixon se poësie: daar is ’n sterk element van beheer en handwerk in hulle digkuns te bespeur; albei is in staat om effektief-rymende gedigte saam te weef. Die kwessie van beheer duik op toe Dowling vra oor die belang van die spontane in liriese digkuns. De Kok waak daarteen om te veel klem hierop te lê, veral omdat die emosie wat die werk aanvanklik inspireer heelwat tydens die skryfproses verander, sê sy. Hierna lees sy ’n pragtige villanelle voor en praat oor die struktuur van die vorm, oor daardie vreemde terugkeer na die eerste reël. Haar opvoering is bedaard, maar ook onthutsend. Dit het my laat dink (en verstaan) waarom Philip Larkin glo vir ’n vriend gesê het dat hy nie daarvan hou om na poësielesings toe te gaan nie: hy’t nooit geweet wanneer die laaste reël gaan kom nie, en kon hom dus nooit emosioneel daarop voorberei nie.

Nog baie goeie gedigte het vir my voorlê: Ek onthou veral Dixon se gedig oor hoe hulle as kind op Graaff-Reinet die huis oop- en toegemaak het om die weer en hitte te reguleer. Die gedig is vol ryk en direkte beskrywings, die verlustiging in teksture en sintuiglike waarnemings het my herinner aan sommige van Seamus Heaney se gedigte en net soos ek wil opmerk dat daar iets oordrewe aan haar opvoering en haar stem is, vind ek uit dat Dixon, nes vele ander skrywers (o.a Larkin en David Shields), lank met ’n spraakprobleem gesukkel het. Dit is ook die onderwerp vir een van die meer persoonlike gedigte wat sy later voorlees.

Soos die geleentheid einde se kant toe staan, besef ek dat ek al hoe meer verlief op albei digters raak. Ek kan aanvoel dat my indrukke ook deur die ander toeskouers gedeel word op grond van ons almal se reaksie op die gesprek. Hierna haal Dowling vir J.M. Coetzee aan waar hy suggereer dat skrywers altyd ’n enkele landskap in hulself dra. Dixon praat oor die indrukke wat Umtata en Graaff-Reinet se landskappe op haar gelaat het en hoe hulle in haar werk teenwoordig is. De Kok grap dat dorre landskappe altyd iets in haar ontsluit, waarna sy “Kalahari Campsite” voorlees, ’n gedig wat ’n ontsagwekkende belewenis van haar grootword-omgewing verwesenlik.

Die gesprek eindig met ’n versoek van die gehoor dat De Kok een van haar gedigte voorlees oor hoe Aartsbiskop Tutu begin huil het tydens die Waarheids- en Versoeningskommissie. Die gedig eindig met die reël “that’s how it began” – ’n kragtige gedig wat kragtig voorgedra is.

Toe ek uitloop, voel iets effens ligter in my terwyl ek na my vriende deur die hoofstraat stap om ’n rygeleentheid terug Stellenbosch toe te kry. Miskien het ek begenadig gevoel deur die bestaan van nog twee digters, nog twee siele, wie se voortkomende werk ek met blydskap sal lees.

Comments