Reports

Die busrit van jou lewe

Trippie. Regie deur Nicola Hanekom. Met Nicola Hanekom en Stian Bam. 2014.

MAGDEL VENTER

Trippie-Sample-02

Die kortfilm wat deel gevorm het van die Kyknet Silwerskermfees van 2014 vertel die verhaal van ʼn man wat ʼn geheimsinnige vrou met ʼn liefde vir appels en babbel ontmoet op sy busroete. Hy begin al meer aangetrokke voel en haar geheimsinnigheid maak hom bang maar tog kan hy homself nie keer om een van haar appels te eet nie, ʼn besluit wat hy net soos Sneeuwitjie van ouds sal berou.

Die teks van hierdie kortfilm is ʼn verwerking van ʼn drama wat by die Absa KKNK van 2013 opgevoer is, toevallig ook in ʼn bus met die gehoor wat self passasiers is. Dit skep ʼn gevoel van vasgevangenheid en isolasie. Die kortfilm doen dieselfde deur die kamera skote wat meestal fokus op die twee hoof-akteurs en alle skote word van binne die bus geskiet. Ons word nooit byvoorbeeld gewys hoe die buitekant van die landskap lyk nie en soos wat dit donkerder word buite verhoog dit die spanning binne in die bus. Die kortfilm eindig ook in pik donkerte, met die briek-ligte wat Stian Bam se karakter se einde so mooi belig.

Dit is nie maklik om beide regisseur en akteur te speel nie maar Nicola Hanekom slaag daarin om beide rolle met gemak te vul. Die kleurvolle persoonlikhede van haar karakter wat sy moet aanpak laat die gehoor ongemaklik voel en hulle weet nie hoe om haar te lees nie. Dit is dus geen wonder dat sy weggestap het met die beste aktrise toekenning by die Silwerskerm fees nie. Trippie is haar debuut kortfilm as regisseur, en sy was ook verantwoordelik vir die skryf van die oorspronklike teks en die verwerking van die teks vir die kortfilm. Die dinamika tussen haar en Stian Bam is baie goed en mens kan verstaan waarom hulle gehou het by die oorspronklike rolverdeling van die Absa KKNK drama.

Stian Bam se trane laat die gehoor saam huil en ons word by sy storie betrek. Die naby skote van sy gesig wat lang, ononderbroke skote is, verdiep die verhaal en die gehoor bly onbewus van die geheimsinnige vrou se bestaan en vergeet vir ʼn oomblik dat sy ook op die bus is. Met sy hartroerende vertolking het Stian weggestap met die beste akteur toekenning vir die kortfilm.

Hierdie kortfilm het geen vaste genre nie, heel gepas omdat die gehoor slegs aan die einde die lot van ons held en die geheimsinnige vrou se ware motiewe uitvind. Dit kan egter met films soos 12 Angry Men vergelyk word, meen vervaardiger Grant Swanby, in terme van die fokus wat dit plaas op karakterontwikkeling in een sentrale ruimte. Dit fokus op die toneelspel en die teks en nie op verskillende ruimtes skep nie. Dit is eenvoudig en gekompliseerd in dieselfde asem en vat die gehoor op die busrit van hulle lewe. Dit maak dit beslis die busrit werd.

Toonaangewende donker komedie

Vuil Wasgoed. Regie deur Bennie Fourie. Met Bennie Fourie en Bouwer Bosch. 2014.

vuil_wasgoed-poster21

Die kortfilm vertel die verhaal van twee vriende, Wim en Kevin, wat in ʼn wassery werk en wat soms uit verveeldheid van hul kliënte se klere aantrek. Eendag stap daar egter ʼn misterieuse man by die deur in met ʼn pak klere wat net reg kan pas vir ʼn partytjie. Wat hulle in een van die baadjie se sakke vind, verander hulle hele wêreld skielik in ʼn gangster film.

Om ʼn komedie aan te pak sonder om in die klug slaggate te val is baie moeilik – Suid-Afrikaners sukkel soms om nie te veel die Amerikaanse slapstick resep te gebruik nie en die eindresultaat is dat jy sit met ʼn komedie wat net ʼn paar halfhartige giggels kan bring. Vuil Wasgoed is egter nie een van daardie Suid-Afrikaanse komedies nie, grootliks omdat dit ʼn effense donker ondertoon in het. Met die bloedbevlekte vloere laat dit mens meer aan ʼn Quentin Tarantino film dink as aan net nog ʼn cliché. Dit het tog nogsteeds die ligte oomblikke wat die spanning in die storie verbreek en die uitdrukking op die twee akteurs se gesigte is genoeg om enige ernstige oomblik ligter te maak.

Die teks is eenvoudig en die komedie kom natuurlik oor. Die fantasiewêreld wat Wim binnetree is melodramaties en verskaf meeste van die genot in die kortfilm. Die goeie en natuurlike interaksie tussen Fourie en Bosch sorg vir baie van die kortfilm se kragtigste ‘oneliners’. Simoné Nortmann is ook die perfekte stereotipiese ‘girl next door’. Leandie du Randt maak ook ʼn klein verskyning as Angelique en is die teenoorgestelde van Simoné se karakter. Sy is ʼn snobistiese karakter wat duidelik beter dinge het om met haar tyd te doen as om vir Niki in die kar te wag. Die kortfilm maak natuurlike gebruik van stereotipes, en die karakters is nooit oordrewe nie.

Tim Theron speel die rol van 'n misterieuse man, wat ʼn mooi kontras tussen die donker en die ligter kant van die komedie skep. Hy is weereens ʼn stereotipiese karakter wat die gehoor se verwagtinge omverwerp. In die begin is hy ʼn skurk en die karakters is doodbang vir hom. As die dwelmbaas, gespeel deur Hannes Muller, egter in die prentjie in kom, is hy skielik ʼn hele ander mens en dit ontaard in een van die mees angswekkende oomblikke van die kortfilm wat afgerond word met nog snaakser wat-het-nou-net-gebeur oomblikke.

Vuil Wasgoed is ’n toonaangewende donker komedie, en mens kan verstaan waarom dit die beste kortfilm toekenning by die Silwerskermfees gewen het. Dit is vars, donker, subtiel en baie skerp geskryf: presies net wat enige suksesvolle komedie nodig het. Die regte balans tussen stereotipies en ʼn ernstige donker ondertoon. Jy sal beslis nie spyt wees dat jy daar was om hierdie kortfilm te sien nie.

Tagged , , , , , ,

Comments