Reports

Agterplaas gaan verby vervelige grense

Agterplaas, teks en regie deur Charles Fourie, 5 Maart 2012, US Woordfees, Stellenbosch

BIBI BURGER

Charles Fourie

In ’n onderhoud met Willemien Brümmer het die dramaturg en regisseur Charles Fourie gesê sy doel in die teater is “om die gehoor op te voed en van hulle protagoniste te maak om in samewerking met dit wat hulle in die teater ervaar, teenkanting te bied teen vorme van onderdrukking en middelmatigheid”. Fourie se poging om van die gehoor protagoniste te maak, is reeds van die begin af duidelik wanneer die gehoor instap om Agterplaas te kyk, want dit word opgevoer op ’n plat stuk grond, onder ’n boom, met die gehoor wat op paviljoene en op die grond sit en kyk. Die dekor bestaan uit ’n karavaan en ’n tent en ’n karige tuintjie voor dit. Pa Frans, Ma San, Ragel en Pietie het sopas hier ingetrek nadat pa klaarblyklik sy werk verloor het weens suipery.

Die karavaan reg voor die gehoor maak hulle bewus van hoe klein so ’n tuiste is, en hulle kan nie die werklikheid van wat voor hulle afspeel, ignoreer nie. Dit is veral waar wanneer die toneel hulle aanval, soos die stof wat Pa Frans op ’n tyd neergooi wanneer hy dit met hulle aankoms seën, of wanneer Ragel sit en vuurhoutjies na die gehoor toe skiet. By sommige van die optredes (onder andere by die KKNK) het Fourie dit maklik gemaak vir die gehoor om meegevoer te raak deur die gesin se dramas en verderf en die moderne Racheltjie de Beer se opofferings, en daarop te reageer, want Helpende Hand het buite gewag om geld in te samel.

Of die stuk hier by die Woordfees dieselfde effek sal hê, en of die gehoor ’n dag of wat nadat hulle dit gesien het die moeite sal doen om ’n bydrae te maak, is ’n ander vraag. Die gehoor by Maandagaand se optrede was sekerlik meegevoer. ’n Ouer, klaarblyklik welaf, dame in die gehoor het byvoorbeeld heeltyd opmerkings gemaak en die karkaters aangemoedig om op sekere maniere (of nie) op te tree nie. Maar is dit nie maar hoe sy op haar sepies ook reageer nie?

Ten spyte van die feit dat Charles Fourie al vir Binnelanders geskryf het, sê hy naamlik dat sy dramas verskil van sepies in hulle realisme en die feit dat hulle probeer om mense te kry om op te tree. In die stuk is daar dan ook verskeie verwysings na sepies, klaarblyklik om hulle afgewaterde realiteit te vergelyk met dié van Agterplaas. Die plot se eienares, tant Klets, se groot droom is naamlik om ’n kameerol in Sewende Laan te wen en vir Matrone te vervang. Aan die einde is dit seker meer waarskynlik dat sy sal beland in die dokumentêr oor arm blankes wat sy op DSTV kyk. Die ander sepie wat in die toneelstuk teenwoordig is, is die radio hoorspel Boplaas (’n verwysing na Boerneef deur D.J. Opperman) waarna ma San luister. Boplaas word uitgevoer in keurige RSG Afrikaans, en gaan oor ’n gesin wat hulle plaas kan verloor. Volgens die aankondiger is Boplaas ook geskryf deur Charles Fourie – ’n speelse erkenning dat sy Agterplaas se toeganklike melodramas nie so ver weg is van dié van Boplaas nie?

In Boplaas loop alles egter natuurlik redelik goed af (die plaas word in elk geval behou) terwyl dit dikwels nie waar is van die realiteit, en van Agterplaas nie. Waar Boplaas deur baie as kultuur gesien sou word en deur ander as net ’n vlak bo die sepie, speel Agterplaas ook met Afrikaners se perspesies van kuns en wat dit is. Die dialoog is Jack Parow Afrikaans, nie Riaan Cruywagen Afrikaans nie. Aanvanklik kom die slang taal oordryf voor, maar later verkry dit ’n tipe teatrale ritme, soortgelyk aan die manier waarop filmregisseur Kevin Smith (van Clerks, Mallrats, ens.) vloekwoorde soos Shakespeare laat klink.

Agterplaas is nie so verhewe en pretensieus soos sommige Afrikaanse teater nie, maar dit wil ook nie wees nie. Moolman, die skobbejak karakter, dra ’n “Zef Leppard” hemp, ontwerp deur Jack Parow, en by sommige optredes was daar ’n DJ sodat die gehoor na die tyd kon dans. Charles Fourie is bewus daarvan dat, soos hy self sê, drama die “stiefboetie” van Afrikaanse letterkunde is, en met Agterplaas gaan hy verby vervelige grense en skep hy in Afrikaans ’n nuwe tipe teater wat hopelik wel die gehoor sal mobiliseer om iets te doen aan armoede.

 

Comments