Reports

Die diskoers van begeerte: Hennie Aucamp se Lendetaal

Lendetaal: Amanda Botha en Louise Viljoen bespreek Hennie Aucamp se nuutste bundel, 5 Maart 2012, US Woordfees, Stellenbosch

FRANCOIS OLIVIER

Ek het myself onlangs in ʼn soort skaduwêreld bevind, toe ek met troebel gedagtes gesit en wag het vir ʼn praatjie oor Hennie Aucamp se nuut gepubliseerde boek, Lendetaal, wat volgens die subtitel ʼn bundel essays oor “homoërotiek in die kunste en letterkunde” is. Die opslaantent om my was met swart opgemaak, met skerp soekligte gerig tot ʼn leë verhoog, en ek het myself afgevra of ʼn onderwerp soos die homoërotiek nie dalk sou baat vind by ʼn warmer of meer persoonlike ruimte nie. Dit voel altyd vreemd om van begeerte te praat voor ʼn saal vol mense.

Hennie Aucamp se boek is deur resensente geprys as ʼn unieke en waardevolle versameling wat as ʼn fyn gedetailleerde reis deur, onder meer, kuns, fotografie, literatuur, gay-bloemlesings en egodokumente beskryf kan word. Die outeur gebruik ʼn diverse seleksie kunstenaars, fotograwe en skrywers van reg oor die wêreld en sy essays demonstreer eksepsionele literêre vernuf. Amanda Botha en Louise Viljoen, kenners onderskeidelik uit die kunswêreld en die letterkunde, het elk ʼn respons gelewer tot dié versameling essays, en ten spyte van my eie bedenkinge oor die lokaal, was die praatjie ʼn interessante vertrekpunt tot groter vrae oor die plek van so bundel binne die Afrikaanse letterkunde.

Amanda Botha het begin deur haar ideë en indrukke van die manlike naakfiguur in die kunste voor te hou, want die eerste paar essays in Aucamp se bundel spits hulself spesifiek toe op hierdie onderwerp. Sy het begin deur die gehoor te herinner dat “die naakfiguur so oud soos die mensheid self is” en dat dit ʼn deursoekte onderwerp in die beeldende kunste en later ook in die fotografie is. Botha het prikkelende vrae gevra oor die tydlose en universele “misterie van die liggaam” en ook bespiegel oor die verband tussen sensualiteit en spiritualiteit, die erotiek en die pornografies en hoe die liggaam as landskap verken kan word. Soos Aucamp in sy essays, het sy Sheila Cussons gereeld aangehaal wanneer meer evokatiewe uitbeeldinge van die lyf se lieflikheid nodig was. Die uiteindelike vraag wat Botha aan die gehoor gestel het, was of die siening van die liggaam deur manlike of vroulike of “gay” oog anders is? Hierop het sy duidelik “nee” geantwoord en verduidelik dat dit eerder gaan oor “die siening van die skeppende oog” agter die kamera, of voor die wit doek of vel papier.

Louise Viljoen het Amanda Botha gevolg deur ʼn ontleding van die Aucamp se gekose titel te gee. Sy het verduidelik dat Aucamp met “lendetaal” iets evokeer wat die subtitel se beskrywing nie heeltemal kan bybring nie. Vir Viljoen is die “lende ʼn betekenaar vir die seksuele begeerte wat homself dwarsoor die menslike liggaam en ook in die psige aanmeld”. Verder dui die titel ook Aucamp se lees strategie aan. Viljoen sien die metaforiese lende as ʼn soort “scanning device”, oftewel as ʼn soort hermeneutiese instrument (sy het hier die woordspeling voorgespring), wat Aucamp gebruik om die homoërotiese elemente in sekere tekste na vore te bring.

Soos Viljoen dan ook uitwys, handel die grootste gedeelte van Aucamp se bundel oor “skrywers en individuele werke”. In dié essays verwys hy na of bespreek hy die room van Engelse, Europese en Amerikaanse “gay” skrywers; onder andere, Aldolfo Caminha, Stephen Crane, Tsejchof, Will Self, John Henry Mackay, Stephen Spender, Christopher Isherwood, W.H. Auden, Colm Tóibin, EM Forster, HE Bates en Edmund White (daar is ook ʼn interessante essay oor Karel Schoeman se “geromanseerde lewensbeskrywing” van C.L. Leipoldt). Uit hierdie tekste identifiseer Aucamp ook ʼn reeks “gay” argetipes, waaronder die gay cowboy met sy onlangse Hollywood faam, deesdae die bekendste is. Dit is beduidend dat Aucamp se essay oor Annie Proulx se “Brokeback Mountain,” en Ang Lee se aanpassing daarvan, afgesluit word met sy gedig, “Die cowboys van Brokeback Mountain,” uit die bundel Vlamsalamander (2008). So word die twee cowboys en hul aand op die berg dan ook herskryf in Afrikaans.

Lendetaal is ʼn onmisbare Afrikaanse literêre teks binne groter diskoerse van gay-identiteit en/of die queer-projek in die Anglo-Saksiese wêreld. Dit is ook ʼn beginpunt vir belangrike vrae oor die literêre tradisies en kunsvorme wat kontemporêre Afrikaanse ekspressies van homoseksuele begeerte help vorm. Volgens S.J. Naudé, in sy onlangse resensie, is “daar niks soortgelyks in Afrikaans nie en, daar sal, waag [hy] om te voorspel, nooit weer wees nie.”

Comments