Reports

’n Speurverhaal sonder ’n speurder

GELEENTHEID: Kerneels Breytenbach – bekendstelling van Piekniek by Hangklip (Saterdag, 24 September; Fugard teater)

BARBARA BURGER

Kerneels Breytenbach, skrywer van Piekniek by Hangklip, gesels met Michiel Heyns.

By die bekendstelling van Kerneels Breytenbach se eerste roman in 18 jaar, Piekniek by Hangklip, het hy aan Michiel Heyns verduidelik dat die boek ’n speurverhaal sonder ’n speurder is. Breytenbach het aan die boek begin werk nadat Etienne Bloemhof van NB-uitgewers genoem het dat hulle ’n tekort aan speurverhale het. Die resultaat is nie heeltemal die dun Elmore Leonard-geïnspireerde werkie wat Breytenbach aanvanklik ingedagte gehad het nie.

Die eerste manier waarop die boek van die tradisionele speurverhaal afwyk is dat die leser die enigste speurder in die verhaal is: hy of sy word genoeg inligting gegee om tot gevolgtrekkings te kom, maar die karakters self maak nie enige vordering nie. Die tweede afwyking van die whodunnit-patroon is dat die verhaal dus ook nie ’n siniese speurder as verteller het nie, maar eerder ’n eksterne vertelstem wat Breytenbach as ’n kombinasie van homself en die verteller van Joseph Andrews deur Henry Fielding beskryf. Breytenbach sê dat hy van dié verteller hou omdat hy die karakters in die storie eerbaar laat klink, al besef die leser dat hulle eintlik “fornikeerders” is.

Piekniek by Hangklip se hoofkarakters is Sonja, wat Breytenbach as ”’n verteenwoordiger van die jonger sensibility” beskryf. Haar motor word gekaap en haar ouers word per ongeluk doodgeskiet wanneer sy onbedoeld die kaper, Joshua, op die mond soen. Hierdie soen steel glo Joshua, ’n man wat al 34 mense vermoor het, se “mojo”. Die res van die verhaal gaan oor hoe Sonja haarself na die kaping probeer hervestig in Bettysbaai, en hoe Joshua haar probeer opspoor om sy mojo terug te neem. Breytenbach het aan Heyns verduidelik dat dit tot ’n mate ’n waagstuk was om sy verhaal om die konsep van “mojo” te laat draai– lesers kon dit koop, of nie. Sy inspirasie vir die idee was ’n nuusberig oor transitorowers wat muti om hulle nekke dra vir beskerming. Hy het gevoel dat dit ’n tipe onoorwinlikheid aan sy karakter kan gee en klaarblyklik doen dit – Heyns sê dat die karakter van Joshua ’n tipe aura het wat soortgelyk is aan dié van verskeie Tarantino karakters.

Quentin Tarantino het ook ter sprake gekom toe Heyns vir Breytenbach gevra het oor die morele waardes van die roman. Louise Viljoen het immers in ’n resensie op Litnet gesê dat die roman onder andere ’n “stryd om die behoud van goeie waardes, esteties bevredigende argitektuur, opbouende literatuurkritiek, onpretensieuse eetgewoontes en volhoubare maatskaplike verandering” behels.

Op die vraag van wat sy waardes dan nou is, het Breytenbach gesê dat dit respek vir jou medemens en ’n weiering om misdaad deel van jou “comfort zone” te maak insluit. Hy het genoem dat hy, geïnspireer deur Etienne Leroux, probeer om goed en sleg te balanseer. Heyns wys egter uit dat die “bose” dele in die roman van die lekkerste is om te lees, waarna Breytenbach moes bieg dat die gewelddadige tonele lekker was om te skryf. Hy wou immers ’n roman skryf waarin hy Tarantino-agtige dialoog soos “I will get medieval on your ass” kon gebruik.

Viljoen het ook opgemerk dat daar in die roman ’n balans is tussen die intrige en besinning oor allerlei filosofiese onderwerpe. Een van hierdie onderwerpe is die aard van kitch. Breytenbach verduidelik dat sy idee van wat “kitch” is, uit “Nietzsche contra Wagner” spruit, waarin Nietzsche kitsch beskryf as ’n kuns wat aangeplak en oordadig is. Dit kom ter sprake in die verhaal wanneer Sonja probeer om vir haarself ’n onkitch huis in Bettysbaai te laat bou. Die argitek wat dit moet doen dien as ’n mentorfiguur vir haar, en Breytenbach verduidelik dat hierdie karakter gebaseer is op prof. Degenaar en die goed wat hy in sy klasse gesê het oor Borges se opinie oor die argitektuur. Dit behels onder andere dat huise oop moet wees vir die omgewing rondom hulle en nie net geslote eenhede moet wees nie.

Michiel Heyns het na aanleiding hiervan opgemerk dat ’n kitch huis dan ’n afgeslote een sal wees, een wat te bewustelik probeer om ’n monument en statement te wees. As dieselfde kriteria op Piekniek by Hangklip toegepas word, is dit duidelik dat hierdie ’n baie oop en onkitsch roman is. Dit is vol verwysings na alles en nog wat, en lewer op ’n speelse manier kommentaar op onder andere die filosofie, politiek en die Afrikaanse literatuur.

Comments