Blogs

Kroniek van Henry van Staden

1.
Henry gaan sit.
Diewe sluip deur sy verstand
met skatte in hulle hande,
uit by die deur,
met die buitetrap af.
’n Gepaste straf,
dink Henry half magteloos,
is om straat-af
deur gemener boewe
oorval te word.
Toksiese afval
van gedagtes stort
op die blink teer
en spoel in stormwaterslote af.
Die stikstofstad
in Henry se verstand
ontbind.
Die nag oorval
hormonale buurte.
Langs spruite
beplan bendes boosdoeners
aanslae op sekere selle
in die vesting.
Op ’n periodieke tabel iewers
verloor elemente hulle elemente
om ander elemente te word;
die Here weet
hoe hulle weer
aanmekaargesit word
Henry van Staden,
hy is ’n broer van my tyd,
hy het ’n hart en ’n hand en ’n oog,
en sy bene staan ’n klein bietjie wyd!

2.
Henry staan op.
So kan dinge
nie aangaan nie!
Sy hand is ’n swaard:
hy sny deur die stilte
om ’n druisende Anderkant
te laat inspoel.

Elke beweging
dolwe alles om.

3.
Henry plant twee
sade soos eiers
in ’n nessie grond
in sy plek.
Twee bome
vleg bas teen bas
deur die lug,
hulle weef
soos verliefde vinke
vir hom skaduwee.
Daarin
hou hy sy slagvee aan:
varke en skape en ’n bok;
’n hond
om wag te hou;
’n koggelmander
om mooi te lyk
teen die groot rooi klip
met die blou hart.

4.
Hoeveel grond
het ’n man nodig?

5.
Hy kamp
die kampie met die groot
doringboom af
vir ’n koei met haar kalf;
hy slag soms
en kook die vet vir salf;
hy sê: ek is die helfte
en jy
is die ander half.

6.
Henry, Henry van Staden,
’n Boer van my tyd!
Hy het ’n baard, ’n boeppens en ’n bles.
So kom hy in die lewe in,
so gaan hy uit,
tegelykertyd.

7.
In die nag
doen hy Nagwerk.

Hy saai sterre
in die onmeetbare geliefde.

Hy sterf
en reis na die stilte.

Uit sy beendere
verrys sy kinders.

8.
Hierdie land is nie my land nie,
sê hy op ’n dag.
Hy saal op en val weg.

Henry van Staden,
’n man soos ek!
Henry, ou Henry,
hy soek nuwe lêplek.

9.
Hy kry vir hom
’n adderslang, ’n geitjie
uit Afghanistan,
’n iguana met ’n goudgroen rug,
’n tor en ’n hotnotsgot,
’n by in vlug,
en terug in die woestyn
’n sprinkaan

Hy sê, dink daaraan,
dit was Johannes
se lot ook,
Johannes van Jerusalem,
jy weet?
Johannes van die Groot Vergeet.

My naam
is my naam, sê hy,
en saam
is ons saam.

Hy span in
en aan die einde van die dag
span hy uit.
Hy bou krale
teen leeus en hiënas.
Hy maak ’n bobbejaan mak
vir ’n vriend.

10.
Een nag
sien hy sy gesig
in die gesigte van al die lewens
in sy Lewe,
die heiliges en die hekse:
een Stam,
een Vloed,
een Verlossing.

Die volgende dag
is daar weer twee:
dag en nag,
wag en verwag.

11.
Met ’n moeson
een mooi seisoen
kom die rivier af
en verslind alles in sy pad:
Henry se kamele, perde en olifante;
die koue
met die eksotiese fisante
wat hy as geskenk wou gee
aan die Koning
van die Volgende Land;
die kissie salwe
waarmee hy hom invryf
vir lang liefdestogte;
die versteende lyf
van ’n insek wat hy was
lank voor die mense;
twee vere
wat ’n fladderendende engel
op ’n dag half verskrik
in ’n ewe verskrikte voorvader
se skoot laat val het;

en nog ’n hele lot.

12.
In ’n grys stad
ontmoet hy Magaly
wat sy wonde
met haar trane was
en sy woorde onthou.
Sy sê:
“Die Here weet.
En dit is goed genoeg
vir my.”
Hy klou aan haar
tot hy dik is,
dan skraap hy
sy sente bymekaar.
Hy koop vir hom
’n tier in die mark,
’n adder in ’n mandjie,
’n stil voël in ’n kou
en ’n gladdebek
bobbejaan
wat sê,
“My naam is Maywiy Kausay,
ek is ’n sjamaan.
Dit beteken
Een wat Deurgaan.
Ek sal jou
die Pad wys.”

Hy klim
teen die berg op.
Hy maak ’n gedig
van Vergeet
en Aanmekaarsit.

13.
As die alleenheid
hom vat
sing Henry:

Magaly, Magaly, Magalyla
dis vir jou wat ek onthou

Magalyla-lyla-lyla,
Dis vir jou wat ek onthou!

14.
Onverhoeds gryp die Dood
hom van agter,
fluister in sy oor:
“Die lewe is kort, Vriend.
Maar as jy binne-in gaan
sal jy verstaan
dis eindeloos lank
en dis my stank
hier in jou nek
wat jy moet bedank
as jy onthou.

“Henry! Luister mooi:
Party dinge is Donkerte van die Nag,
ander Die Lig se Golwe,
maar met elke ding
word Alles omgedolwe.”

15.
Leila lei hom
in sy droom.

Sy is vol skaduwees
van die ouderdom
van die mense.

Sy ontvang hom en hy runnik
as hy die sweet
in haar nek ruik.

Sy hou hom
as hy losruk
uit die lus.

Sy skep ’n kruik water vir hom,
sy vryf
die salpeter uit sy lyf.

Sy sê,
“Ek is ’n mens,
jy ’n dier,
maar ons is albei hier.”

16.
Vlamme lek die donkerte gloeiwarm.
Vuur trek
deur die nag
deur sy skuur
en eet die gras
en alles wat daar
vir sy beeste was.

Henry sit by die as.

Hy tel die verlies.

Hy weeg sy sente op
teen die rente
wat soos ’n pes
deur sy goed trek.

Hy verklaar
hom bankrot.
Hy word gestroop
van sy hele lot.

Henry, Henry
se hartklop
Henry se hart
galop galop
op daardie draf
die steil bult af.

17.
In die diep nag
glinster sterre
in sy verbeelding,
’n befakkelde poort
in die donker tuin
van die Al,
en Henry val
val deur die eindelose
ongegronde,
deur die kolkende
vloed van sy bestaan
tot hy sien
sy kom en gaan
kom en gaan
soos kom en gaan
maar kom en gaan.

18.
Die diere
wat hy doodgemaak het
kom besoek hom
een middag voor hy slaap:

’n bok en ’n vark en ’n bees,
’n slang en ’n duisendpoot,
’n spinnekop en ’n slak,
’n duif, en selfs ’n spreeu,
en met sy tregtergat ’n mierleeu.

So kom hulle
soos die diere van die ark,
’n vlieg en ’n by,
’n hond en, verskriklik, ’n kat
’n arme, verskeurde likkewaan,
’n mossie met sy fluit
’n akkedis met sy gryswit pens
en ’n stokou rondloper-bobbejaan.

So kom hulle na hom,
die een wat hulle doodgemaak het,
soos hy hulle doodgemaak het
met al die wyses van sy hart,

weerloos in die skerp lig
in sy venynige visier,
vreesbevange dier

stil onder sy hand
in die kort droom
van ’n verlossende spuit.

Die diere
kom groet hom,
Henry, ou Henry,

hy sien hoe hulle gaan

19.
Henry se bene vol kerwe
van antieke gevegte

Bobeen ’n knuppel gekraak
op ’n duisend skedels

Boog van die voorarm geslyp
deur singende swerms pyle

losgelaat
uit die hol ribbekas

Gebeitelde rugstring katapult
vir die kop, groot gevaarlike granaat

’n Kaak vir ’n oerkryger
in Henry se skelet,

vir een wat alleen
teen driehonderd staan

Die bekken ’n boemerang wat terugbeur
na die hand vol uitgeholde vaart

Henry ratel,
kletterende Henry

Henry rinkel, verslinde Henry,
Henry, ontbeende

Met elke keep onthou hy dat hierdie een
een van twee is

Daardie twee
twee onteende

20.
In groot wildheid
het Henry
sy nasate
gewek,
uitgelate
uit sy nate
gebars
het Henry,
verlate
toe die laaste
water wegdroog
het Henry,
uitgestulp,
die bevrugte tulp
met ’n laaste
saadspoor bestryk

toe het Henry
weggekyk
na hoe hy
in die verte lyk

21.
Hy lê wakker
en sê die name
van sy kinders:

Wysheid, Geluk en Tweeling,
Onstuimige Lug, Vaste Grond en Eerste Water,
Toorwoorde, Betyds en Onstuitbaar!

22.
“Nou het ek die naam
van my mense:
Vrede op Aarde,
sê hulle vir my,
en ek noem my nasate
Kinders van Vrede op Aarde."

Maar iewers sing iemand nog:
Henry, ou Henry,
’n Van Staden soos sy pa,
wat ’n bietjie meer
aan die eenkant
as die anderkant dra.
Website | + posts

JC Blyk, as JC Van, Johannes van Jerusalem and even Christo van Staden, is a veteran of the infamous Bekgeveg poetry show. He wrote Eros ontbind (Protea 2006). His instrument is a Tibetan singing bowl. He has a bag full of stones and bones.

This entry was posted in Blogs

Comments

Everline van Dyk says:

Goeie gedig! Groot werk! Het geniet om te lees!