Literary Translation

Afrikamasutra

 

Eksklusief: Kama Sutra liefdesposisies in mooi, skone Afrikaans

In Afrikaans vertaal deur Ilse Groenewald. E-boek, Bon Mot Digitale Publikasies.

Afrikamasutra: Afrikaners Kama Soen! Met oorspronklike kunswerke deur Diek Grobler, Hardus Koekemoer en Marna Schoeman.

Die Kama Sutra word gesien as die standaard werk oor menslike seksuele gedrag geskryf deur Vatsyayana tussen die eerste en sesde eeu na Christus. Kama verwys na estetiese en erotiese plesier en liefde, terwyl Sutra na die draadjie verwys wat alles en almal aan mekaar verbind (soos die Engelse suture).

Luister na Ilse Groenewald se voorlesing uit Afrikamasutra

Die algemene siening oor die Kama Sutra in die Westerse wêreld is dat dit slegs ’n sekshandleiding is. Die Kama Sutra is egter veel meer. Dit bied ’n gids vir ’n deugsame, innemende, goeie en spirituele leefwyse. Dit bespreek die aard van die liefde, familielewe en ander aspekte wat gepaard gaan met liefde en plesier binne die menslike bestaan.

Die bekendste Engelse vertaling van die werk is gedoen deur die Oriëntalis, Sir Richard Francis Burton, in 1883. Alhoewel die Kama Sutra nie oorsponklik illustrasies bevat het nie, het die tweede deel van die werk verskillende seksposisies beskryf. Die illustrasies is later deur vertalers bygesit om Vatsyayana se uiters ingewikkelde teks effens meer verstaanbaar te maak.

Ilse Groenewald het in die vertaling van die teks besluit om die poëtiese beskrywings van die verskillende posisies in die teks in te werk en nie as ’n aparte, tweede afdeling te plaas nie. Vir my maak dit die teks meer verstaanbaar en geïntegreerd.

Hier is ’n voorsmakie van enkele, alombekende Kama Sutra liefdesposisies, in Afrikaans.

Lêende posisies

Indrani1 trek beide haar kniëe op
totdat hulle saggies onder die kurwes van haar borste lê;
haar voete vind haar geliefde se armholtes.
Jong meisies hou baie van hierdie posisie,
maar om ’n godin te word verg baie oefening.

Sy hou en lig haar boude met haar palms,
sprei haar dye wyd,
en grawe haar hakke langs haar heupe in,
terwyl jy haar borste liefkoos:
dit is “Utphallaka” (Die Lotus in volle blom).

Jou pragtige bruid lê op die bed,
sy neem haar eie voete
en trek hulle op totdat hulle haar hare raak;
jy vang haar borste en maak liefde:
dit is “Vyomapada” (Hemel-voet).

Die vrou met die ronde dye op die bed
neem haar enkels en lig haar Lotusvoete omhoog;
jy piets haar aan die wortel, soenend
en klappend, met oop palms tussen haar borste.
Dit is “Markata” (Die aap).

Sy lê plat op haar rug,
jy sit tussen haar gespreide kniëe, lig hulle,
haak haar voete oor jou dye,
hou haar borste vas en geniet haar:
dit is “Manmathpriya” (Kosbaar vir Kupido).

Lêende posisies (Samputa groep)

Wanneer jou geliefde, soos ’n merrie
’n hings wreed vasknyp,
jou penis vasvang en melk met haar vagina,
is dit “Vadavaka” (Die merrie se kuns).

Posisies van die Middeleeuse teks

Wanneer geliefdes, met bene reguit uitgestrek,
mekaar met hul voete liefkoos
en liefde maak volgens die begeerte van hul harte,
noem diegene wat “tantra” bestudeer dit “Sampada” (Gelyke voete)
en stem saam dat dit die pad na ekstase is.

Styf soos ’n paal in die middel van die bed,
lê sy en maak liefde,
murmelend en singend soos ’n bosduif,
die juweel van haar klitoris blink gepoets:
dit is “Mausala” (Die stamper in die vysel).

Haar ledemate, verstrengel in joune
soos die ranke van die welriekende jasmyn,
trek styf en ontspan dan stadig
in die sagte ritme van lingam en yoni:
dit is “Lataveshta” (Die klouende klimplant).

Sy trek haar ledemate saam,
druk haar kniëe styf teen haar borste,
haar yoni, soos ’n oop bloeisel,
geoffer vir plesier:
dit staan bekend as “Mukula” (Die bloeisel).

Sittende Posisies

Sittend, mond tot mond,
arms teen arms, dye teen dye:
dit is “Kaurma” (Die skilpad).
As die geliefdes se dye, steeds teen mekaar, gelig word,
is dit “Paravartita” (Draai).

Indien jy binne die grot van haar dye
sit en jou heupe roteer soos ’n swart by,
is dit “Markata” (Die aap).
En as jy, in hierdie posisie, wegdraai van haar,
is dit “Marditaka” (Maal van speserye).

Van aangesig tot aangesig, sittende op die bed,
druk haar borste styf teen jou bors,
laat beide van julle jul hakke
agter die ander se middellyf sluit,
en leun terug terwyl julle mekaar se gewrigte vashou.
Bring nou die swaai gelydelik in beweging,
jou geliefde, in geveinste vrees,
klou aan jou liggaam met haar vlekkelose ledemate,
koerrend en kreunend van plesier:
dit is “Dolita” (Die Swaai).

Knielend tussen haar dye,
kielie haar borste en onder haar arms,
noem haar “my liefste hartlam”
en druk diep naelmerke rondom haar tepels:
dus word “Jaya” (Oorwinning) verklaar.

Liefdesposisies van agter

As jy op haar klim soos ’n hond,
haar middel vashou,
en sy omdraai om in jou oë te staar,
sê kenners in die kuns van die liefde
is dit “Svanaka” (Die Hond).

As die vrou, vurig vir liefde,
hande-viervoet staan, haar rug krom maak soos ’n hertooi,
en jy haar van agter af geniet,
bronstig asof jy alle menslikheid verloor het,
is dit “Hirana” (Die Hert).

Gryp haar voete en lig hulle omhoog
(soos ’n kruiwa)
dryf jou lingham in haar yoni in
en verskaf haar genot met lewendige hale:
dit is “Kulisha” (Die Donderslag).

Staande Posisies

En nou vir die liefdesposisies
waarmee beeldhouers ons tempelmure mee versier.
Wanneer ’n paartjie staande liefde maak,
of leunend teen ’n muur of pillaar,
word dit “Sthita” genoem (Gestut).

Wanneer die vrou in haar geliefde se
gevlegte hande sit, haar arms om sy nek,
dye wat sy middel vasklem,
en haar voete vorentoe en agtertoe teen ’n muur druk,
is dit “Dadhyayataka” (Melk Karring).

Orale Plesier (Fellatio Tegnieke)

Wanneer jou minnaar jou penis
in haar hand vasvat en haar lippe,
wat ’n ‘O’ vorm, liggies op die punt plaas,
terwyl sy haar kop in klein sirkeltjies beweeg,
word hierdie eerste stap “Nimitta” genoem (Aanraking).

En nou, aangevuur deur passie, neem sy
jou penis diep in haar mond,
kragtig trekkend en suigend aan hom
asof sy ’n mangopit afsuig:
dit is “Amrachushita” (Suig ‘n Mango).

Wanneer sy voel dat jou orgasme naby is
sluk sy die hele penis,
suigend, terwyl sy aan hom werk
met lippe en tong todat jy kom:
dit is “Sangara” (Heel Ingesluk).

Orale Plesier (Cunnilingus Tegnieke)

Met delikate vingerpunte
knyp die verhewe lippe van haar paleis van die liefde
baie, baie stadig saam,
en soen hulle asof jy haar onderlip soen:
dit is “Adhara-sphuritam” (Die Tintelende Soen).

Sprei nou, kloof inderwaarheid,
die gewelfde poort met jou neus en laat jou tong
liggies haar yoni betas,
met jou neus, lippe en ken wat stadig in sirkels beweeg:
dit word “Jihva-bhramanaka” genoem (Die Sirkelende Tong).

Laat jou tong vir ’n oomblik in die gewelfde poort
na die blom-versierde Goddelike Tempel tot ruste kom
voordat jy binnegaan om met intensiteit te aanbid,
wat veroorsaak dat haar saad ontkiem:
dit is “Jihiva-mardita” (Die Tong Massering).

Rolwisseling

Die onwillekeurige siddering van orgasme
word “Samputa” genoem (Die Juweelkis).
Maar geen twee vrouens maak liefde op
presies dieselfde manier nie, pas dus jou ritme aan
tot die buie en kleure van elke minnares se “raga” (emosies).

Indien ’n lang liefdesspel jou uitput
voordat jou geliefde orgasme bereik het,
laat haar toe om jou
op jou rug te rol en wydsbeen op jou te gaan sit,
en beheer te neem.

As hierdie posisie haar intense plesier verskaf,
of jy geniet die uniekheid daarvan,
kan julle ’n gewoonte daarvan maak,
terwyl daar egter groot sorg geneem moet word
om nie die ligham uit haar liefdestempel te dryf nie.

Oorweeg: sy klim bo-op jou,
blomme wat uit haar deurmekaar hare tuimel,
haar lag wat in ’n snak verander;
elke keer as sy vooroor buig om jou lippe te soen
deurboor haar harde tepels jou borskas.

Soos haar heupe begin beweeg,
haar kop, agteroor gegooi, nog vinniger beweeg,
krap sy, slaan sy jou met haar klein vuiste,
sluit haar tande in jou nek,
en doen aan jou wat jy menigte kere aan haar gedoen het.

Wanneer jou passie afgeneem het,
moet sy rus, vooroor buig
en haar voorkop op joune rus
sonder om jul verenigde liggame te versteur:
dit sal nie lank wees voordat begeerte weer roer nie.

Terwyl sy jou penis vashou, lei die vrou
met die donker oë soos omgekeerde Lotusblare,
jou haar yoni binne,
sy klou aan jou en skud haar boude:
dit is “Charunarikshita” (Die Lieflike Vrou in Beheer).

Hou mekaar se hande vas,
lê uitgestrek soos twee stervisse wat liefde maak,
haar borste steek jou borskas,
haar dye is langs joune uitgestrek:
dit is “Devabandha” (Die Koïtus van die Gode).

Indien, deur een of ander toestel,
jou geliefde haarself bo jou laat hang,
plaas jou lingham in haar yoni
en laat sy haarself op en af trek daaraan,
dit is “Utkalita” (Die Iris).


[i] Vrou van Indra. Indra is die koning van die gode in Hindu mitologie.

Comments