Die halmkrans
Soos jy gevleg het aan die halmkrans
Het jy jou milde swye in die hooi betrek,
In koring sonder roes wat slag vir slag
Begin te skitter soos jy dit strakker wring
Tot ’n aanskoulike oureool,
’n Agtelose liefde-wrong van strooi.
Hande, verweerd van essehout en rottangstokke
En lewenslank spore aan kemphane strop,
Het die waarde van hul taak geskat en raakgevat
Totdat jou vingers blind kon werk:
Ek vingerlees die braille daarvan,
Wen die verswygde uit die tasbare,
En as ek speur tussen die goue lusse
Sien ek ons loop langs treinspoorwalle
In ’n aand met uitgegroeide gras en muggies,
Blou rook wat optrek, ou katels en ploeë teen heinings,
’n Veilingbiljet op ’n buitegebou
Jy met die halmroset op jou lapel,
Ek met die visstok, reeds vol heimwee
Na hierdie opgetoë aande, die toppe van brandnetels
En bossies wat swig voor jou stok
Waarmee jy sonder reëlmaat slaan en slaan, maar niks
Opjaag: daardie geboortige dorpsgrond
Steeds gemuilband in die strooi gebind deur jou hand.
Die bestemming van kuns is stilte
Kan die leuse wees van hierdie broos devies
Wat ek vasgeprik het teen ons greinhout aanreg,
Sieltogend van die koring wat sopas daaruit ontglip het –
’n Fyngestelde strik, blink geskuur
Van sy vlug, en nog aanvoelbaar warm.
© Seamus Heaney, 1979. Field Work. Faber & Faber. Vertaal deur Marlene van Niekerk.